Vandat ons 5 jaar gelede terug Boesmans toe gekom het het my suster, Katinka, en haar man Sven aan ons gekarring om aan te sluit by die Kenton Tennisklub. Lene het op skool 1ste span gespeel so sy kan speel en ek het op laerskool ‘n bietjie gespeel, maar ons het gevoel dat ons te veel ander familie- en werksverantwoordelikhede het.
Maar laasjaar toe ek in Port Elizabeth begin werk het, het Lene en Sue, ‘n goeie vriendin van haar, toe wel by die klub aangesluit en hulle het begin om meer gereeld te speel. Intussen het die gogga my en ‘n hele klompie van ons ander vriende ook gebyt. Lene en Sue speel nou al vir ‘n jaar lank en Lene veral begin nou al opgang maak in die Oos-Kaapse plattelandse tennis arena. Mense fluister al haar naam. Nee wat dis net ‘n grap, maar sy en Sue het die naweek die streekkampioenskap vir 3de liga spelers gewen. En 2 van my ander vriende Christoph Groenewald en Douglas van Breda het die manskompetisie ook gewen.
Ek en Greg Baxter het ook deelgeneem, maar ons het nie so goed gevaar nie. Ons was gelukkig nie laaste nie! Ek is nog altyd baie ongeduldig met sport (Gholf is die heel ergste), maar ten spyte hiervan geniet ek die tennis baie. En as ‘n mens in ag neem dat ek nog net so 6 weke of so speel, dink ek nie ons het te sleg gevaar nie. Daar is van die ouens by die klub wat se my tennis het baie verbeter in die laaste 6 weke so ek hoop hulle praat die waarheid en smeer nie net heuning om die mond nie.
In ieder geval, ek besef dat ek nie ongeduldig moet wees nie en net om aan te hou speel. Ek het darem nou al geleer dat dit wel sal vrugte afwerp. Intussen geniet ek dit baie; ek moet net nie myself teen die ander meet nie. Dis maar dieselfde met gholf en sekerlik alle enige sport.
Leave a Reply