Blou Bulle die Beste!

Blou Bulle heers
Die Blou Bulle heers!

Die Blue Bulle se trofeekas is nou propvol na hulle die naweek die Curriebeker teen Adriaan Strauss se Cheetahs verower het. Met spelers soos Guthro Steenkamp, Bakkies Botha, Victor Matfield, Danie Rossouw, Deon Stegmann, Dewald Potgieter, Pierre Spies, Fourie du Preez, Morné Steyn, Bryan Habana, Wynand Olivier & Zane Kirchner gaan mense oor 20 jaar nog praat van hierdie uitsonderlike groep spelers.

In hierdie goeie tye moet ‘n mens nie die maer jare vergeet nie. Ek is ‘n fanatiese Bul ondersteuner vandat ek 11-jaar oud is. Ek onthou die glorie jare van die 80s en toe Deon Oosthuizen onder die pale gaan druk het na ‘n Naas Botha skop in 1991. En toe die eksodus van al ons top spelers, Uli Schmidt, Robert du Preez, Theo van Rensburg & selfs Gerbrand Grobler, na Natal en Transvaal in die 90s. Dit het die Bulle hard geslaan. Dit het 7 jaar gevat vir reserwe skrumskakel Conrad Breytenbach in 1998 om die Bulle weer te laat geld.

Tot in die middel Naughties (2000s) het ons maar les opgesê in die Super 14. My Weepee vriende terg my nou nog oor my lojaliteit teenoor Adriaan Richter, agsteman. Toe kom Heyneke Meyer en ruk die dinge rug. Eers op Curriebeker vlak; ons het 3 bekers in ‘n ry gewen onder Anton Leonard. En toe die Super 14 in 2007 – al was daar ‘n hanteer foutjie voordat Bryan Habana die Sharks se harte verskeur het. Ironies dink ek Heyneke het self die pad byster geraak daarna, maar hy het ‘n uitstekende fondasie gelê vir Frans Ludeke.

Maar nou dink ek nie enigiemand kan stry dat die Bulle nou tops is nie. Nie net het ons die 2009 Super 14 en die Curriebeker gewen nie, maar die Bulle was die grootste element in moontlik die Springbokke se beste jaar. Bakkies Botha, Victor Matfield, Danie Rossouw, Fourie du Preez en Bryan Habana het al die Curriebeker (nasionale kompetisie), die Super 14, die Drie-Nasies, die Britse Leeus en die Wêreldbeker gewen! Hulle is letterlik (ja oukei ek weet net Suid-Afrikaners speel Curriebekker, maar julle weet wat ek bedoel) die enigste ouens in die wêreld wat hiermee kan spog.

1 thought on “Blou Bulle die Beste!

  1. 🙂 🙂 🙂

Leave a reply to Zee Cancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.