Enigiemand vir Tennis?

Vandat ons 5 jaar gelede terug Boesmans toe gekom het het my suster, Katinka, en haar man Sven aan ons gekarring om aan te sluit by die Kenton Tennisklub. Lene het op skool 1ste span gespeel so sy kan speel en ek het op laerskool ‘n bietjie gespeel, maar ons het gevoel dat ons te veel ander familie- en werksverantwoordelikhede het.

Maar laasjaar toe ek in Port Elizabeth begin werk het, het Lene en Sue, ‘n goeie vriendin van haar, toe wel by die klub aangesluit en hulle het begin om meer gereeld te speel. Intussen het die gogga my en ‘n hele klompie van ons ander vriende ook gebyt. Lene en Sue speel nou al vir ‘n jaar lank en Lene veral begin nou al opgang maak in die Oos-Kaapse plattelandse tennis arena. Mense fluister al haar naam. Nee wat dis net ‘n grap, maar sy en Sue het die naweek die streekkampioenskap vir 3de liga spelers gewen. En 2 van my ander vriende Christoph Groenewald en Douglas van Breda het die manskompetisie ook gewen.

Ek en Greg Baxter het ook deelgeneem, maar ons het nie so goed gevaar nie. Ons was gelukkig nie laaste nie! Ek is nog altyd baie ongeduldig met sport (Gholf is die heel ergste), maar ten spyte hiervan geniet ek die tennis baie. En as ‘n mens in ag neem dat ek nog net so 6 weke of so speel, dink ek nie ons het te sleg gevaar nie. Daar is van die ouens by die klub wat se my tennis het baie verbeter in die laaste 6 weke so ek hoop hulle praat die waarheid en smeer nie net heuning om die mond nie.

In ieder geval, ek besef dat ek nie ongeduldig moet wees nie en net om aan te hou speel. Ek het darem nou al geleer dat dit wel sal vrugte afwerp. Intussen geniet ek dit baie; ek moet net nie myself teen die ander meet nie. Dis maar dieselfde met gholf en sekerlik alle enige sport.

Cara in ons tuin

This slideshow requires JavaScript.

Vandag was een van daai spectacular dae wat ‘n mens net weereens laat besef hoe gelukkig ons hier in Boesmans is. Lae 20s en baie min wind. As jy hier bly raak  jy maar gewoond aan die wind, maar as daar dan wel min wind is, dan is hierdie ‘n paradys. Ek het van die geleentheid gebruik te maak om ‘n paar fotos van Cara in ons tuin (wat nou ook baie mooi lyk) te neem. Hierdie is die bestes van die lot.

Springbokke vs All Blacks in Port Elizabeth

Ek en vriend Christoph Groenewald het gister die toets tussen die Springbokke en die All Blacks gaan kyk. Dit was die 1ste keer in 40 jaar dat die Bokke teen die All Blacks in Port Elizabeth gespeel het en was dus ‘n “once-in-a-lifetime” geleentheid wat ‘n mens net nie kon misloop nie!

Dit was die 3de keer dat ek in die Nelson Mandela Stadion was en ek moet nou eerlikwaar sê dat dit ‘n uitsetekende stadion is. Die gees (behalwe vir die onsinnige Suid-Afrikaanse All-Black ondersteuners) was weereens fantasties. Ek is so gatvol vir al die advertensies en hoofstroom-media wat altyd die gemengde wit en swart beeld in ‘n mens se keel afdruk, maar gister op Nelson Mandela Stadion was dit ‘n spontane samesyn. En dit was great. Selfs die relatiewe konserwatiewe Afrikaners saam met wie ons daar was sou saamstem.

Die enigste ou wat uit gevoel het was ‘n ou suurgat All-Black ondersteuner wat vir moeilikheid gevra het. En vir hom het ek regtig nie veel simpatie nie!

Die Volkslied was fenomenaal. Dis mos maar altyd spesiaal, maar ek het eers na die wedstryd op die TV gesien hoe goed dit was. Bobby Skinstad het op die lug gepraat van hoe great die Volkslied geklink het en Bryan Habana en Pierre Spies het daaroor getweet. Ek dink dit was ‘n groot regmerkie in die Baai se kolum by die SA Rugby administrateurs. As ou Cheeky Watson so aanhou mag hy dalk net ‘n bietjie vergifnis genereer.

Die rugby self was ook baie positief. Ons het nou nie bonuspunt driee gedruk nie, maar hierdie was 100% presies wat ons nodig gehad het. As ons te ver gewen het sou dit ook nie ideaal gewees nie. Ons het gedomineer, maar ons ouens sal besef daar is nog baie te doen. Wat wel opmerklik was is hoe geheel-en-al ons die All Black skrum gedomineer het. Ek het dit nie verwag nie.

Die Bokke het verdien om 18-5 gewen.

Verdere opmerkings na aanleiding van die toets:

  • Heinrich Brüssow kan heel moontlik hierdie Wêreldbeker se legende word. Daai Vrystater is net eenvoudig ongelooflik en is myns insiens ons grootste wapen.
  • Bismarck du Plessis is ons tweede grootste wapen. Met hom en Brüssow het ons al klaar twee fetchers in die span en kan ons met groter gemak die baldraers soos Spies, Schalk of Alberts insluit. Peter de Villiers is eenvoudig verkeerd om nog steeds vir John Smit te wil speel. Hy is net nie so goed so Bissie nie. Great kaptein en al daai, maar sy insluiting kan vir ons die wereldbeker kos. Kom nou Divvie; dis nog die een plek waar jy nog dom astrant is!
  • Bakkies is weer terug. Gister was hy “huge” gewees. Hy het fisies gedomineer en is weer “The Enforcer” van ouds. As Bakkies af is, is ons skrum net nie so sterk nie.
  • Morne Steyn moet speel. Ek is mal oor playmaker rugby soos wat Lambie en Butch speel, maar in ‘n Wêreldbeker kies jy jou skopper 1ste. En niemand skop beter as Morne nie!
  • Ek begin al hoe meer van Willem Alberts op 7 hou. Ek, saam met Stuart Barnes (die bekende eenogige Engelse rugby kommentator) reken Juan Smith is/was een van die beste rugbyspelers van ons tyd en ek was baie bekommerd toe hy aangekondig het dat hy nie werelbeker toe gaan nie. Maar selfs as Schalk nie reg is nie, dink ek ons sal oukei wees. Maar sonder Brüssow gaan ons sukkel.
  • Francois Hougaard moet ten minste op die bank wees in elke game. Hy is ‘n masjien. Was Fourie nie die (voormalige) beste skrummie in die wereld nie, was FH ‘n shoe in.
  • Fourie sal sy vorm moet lig, maar hy is die tipe ou wat dit sal doen.

Ek dink sonder om grappies te maak dat ons hier die span het om ons wereldbeker te verdedig. Die enigste reuse kwelpunt is John Smit. Ek wens hy wil die eerbare ding doen en bedank, maar hy sal nie en jy kan hom nie daarvoor blameer nie. Dit is uit die aard van die saak ‘n moeilike besluit en ek dink nie Peter de Villiers het die standvastigheid om so ‘n besluit te neem nie. Dit kan die rugbypublik in SA nog duur te staan kom.

P J Olivier reünie toespraak

Ek is gevra om ‘n toespraak te lewer vir P J Olivier se reünie vanaand. Hierdie is waarmee ek vorendag gekom het:

My naam is Attie Heunis en ek verteenwoordig die klas van 1991 vandag. Ek wil net sê dat is dit nie ooglopend hoe dat al die ander klasse skrikwekkend ouer geword het nie, maar dat ons klas opmerklik nog net dieselfde lyk, maar net wyser is!!

Mnr Snijders, Personeel, Oudskoliere en Families,

Die wêreld soos ons hom vandag ervaar is heelwat anders as in 1991.

In 1991 het die Blou Bulle die Curriebeker gewen, die Wallabies het die Wêreldbeker gewen, Stefan Edberg was die Wimbledon kampioen en Ayrton Senna was die F1 kampioen. Vandag is die Blou Bulle laaste in die Curriebeker, die Bokke is die wêreldkampioene, Djokivic is die Wimbledon koning en Vettel beheer F1. Die een ding wat nog konstant is is hoedat WP nog steeds in die semi’s uitval.

In 1991 was die tyd van briljante rock bands soos Nirvana, Queen, Alice in Chains, Metallica, Guns & Roses en AC/DC en vir Richard Hartwell, Depeche Mode. Vandag luister ‘n mens na Justin Bieber, Jonas Brothers, Lady Gaga, Beyonce, Rihanna, Selena Gomez en darem Adele.

In 1991 was die somtotaal van tegnologie, die sakrekenaar in jou tas en Smirre (Riaan Smit) se twin-deck radio waarna ons na “duiwelsmusiek” geluister het. Vandag het ons Google, Android, Tablets, .NET, the Cloud, Blackberry, Wifi, WiMAX, iPhone, iPod, iPad en selfs iPood. En so gaan dit aan en aan. Behoorlik die inligtingsera!

Maar op ‘n ernstige noot, in 1991 het Afrikaners die hef in die hand gehad. Of dit nou reg of verkeerd was is ‘n ander saak, maar dit is hoe dit was. Die spreekwoordelike deur was wawyd oop gewees vir Afrikaners. Demokrasie het in 1994 het gekom en nou 17 jaar word Afrikaanses van alle kleure (wit, swart en bruin) gemarginaliseer. Ons taal en kultuur kry dit van alle kante af. Hierdie stand gekoppel met die wêreldwye ekonomiese afname beteken die deur waarvan ons vroeer gepraat het nie meer wawyd oop is nie, maar net op ‘n skrefie vir ons loer. Dinge is nie maklik vir Afrikaanses nie.

Maar “moeilik” bou karakter. Ons moet aanpas by hierdie situasie. Ons moet deur hierdie deur kom. En die sleutel tot hierdie deur is opvoeding. Maar opvoeding in die bree sin van die woord: dit sluit in akademiese opvoeding, maar ook disipline, toewyding, maniere en ook om vrae to vra en nie als te aanvaar nie. Hierdie bree opvoeding is wat entrepeneurskap, innovasie, selfversekerdheid, selfverwesenliking en uiteindelik leierskap stimuleer.

Edward Everett, President van Harvard Universitiet in die 1850s het gesê “Education is a better safeguard of liberty than a standing army.” En dit lui hier en nou!

Met goeie opvoeding breek jy enige deur af – hier in Suid-Afrika of in enige plek in die wêreld. Sonder goeie opvoeding gebeur dit wat in Londen die afgelope week plaasgevind het. Maar in Londen het daai outjies die veiligheidsnet van Sosialisme. Ons in Suid-Afrika het nie daai luuksheid nie. So opvoeding is inderdaad ‘n ernstige saak. Die geniale evolusionis Charles Darwin het dit perfek opgesom toe hy gesê het: “How paramount the future is to the present when one is surrounded by children.”.

Ek wil afsluit deur te sê dat ons – die klas van 1991 – goed oplet dat Dr Snijders en sy personeel PJ Olivier se opvoedingslig weer helder laat brand. Die manier waarop julle hierdie kardinale verantwoordelikhied dra is vir ons oudskoliere ‘n riem onder die hart. Ter ondersteuning sê ons “Mooi so” en “Doen so voort”!

Dankie.

Blog at WordPress.com.

Up ↑